Duitse Keiserryk

Deutsches Kaiserreich
Duitse Keiserryk
1871–1918
Vlag Wapenskild
Vlag Wapen
Leuse: Gott mit uns!
(Duits vir: "God met ons!")
Volkslied: Keiserlike Volkslied: Heil dir im Siegerkranz
(Duits vir: "Heil vir jou in die Wennerkrans")

Nieamptelik, maar gewild: Deutschlandlied
(Duits vir: "Duitslandlied")

Nieamptelik: Die Wacht am Rhein
(Duits vir: "Die wag aan die Ryn")
Ligging of Duitsland
Ligging of Duitsland
Die Duitse Keiserryk rondom 1914
Hoofstad Berlyn
52°31′N 13°24′O / 52.517°N 13.400°O / 52.517; 13.400Koördinate: 52°31′N 13°24′O / 52.517°N 13.400°O / 52.517; 13.400
Taal/Tale Duits (amptelik); Deens, Frans, Pools, Tsjeggies, Nederlands, Sorbies, Nedersaksies, Fries, Litaus
Godsdiens 62,8% Protestants (Luthers, Hervormd, Verenigde), 35,8% Rooms-Katolieke, 1,2% Jode[1]
Regering Grondwetlike monargie
Keiser
 - 1871–1888 Wilhelm I van Duitsland
 - 1888 Friedrich III van Duitsland
 - 1888–1918 Wilhelm II van Duitsland
Eerste minister
 - 1871–1890 Otto von Bismarck
 - 1890–1894 Leo von Caprivi
 - 1894–1900 Chlodwig zu Hohenlohe-Schillingsfürst
 - 1900–1909 Bernhard von Bülow
 - 1909–1917 Theobald von Bethmann Hollweg
 - 1917 Georg Michaelis
 - 1917–1918 Georg von Hertling
 - 1918 Max van Baden
Wetgewer Parlement
Historiese tydperk Nuwe Tyd
 - Frans-Duitse Oorlog 19 Julie 187010 Mei 1871
 - Unifikasie van Duitsland 18 Januarie 1871
 - Grondwet goedgekeur 16 April 1871; 4 Mei 1871
 - Oprigting van die Duitse koloniale ryk 15 November 1884
 - Eerste Wêreldoorlog 28 Julie 1914
 - Novemberrewolusie 3 November 1918
 - Abdikasie van Wilhelm II 9 November 1918
 - Verdrag van Versailles 28 Junie 1919
Oppervlakte
 - 1900 540 857,54 km2
208 826 sq mi
 - 1913–1918 2 658 161 km2
1 026 322 sq mi
Bevolking
 - 1871 skatting 40 050 792 
 - 1900 skatting 52 279 915 
     Digtheid 96,7 /km² 
250,4 /sq mi
 - 1910 skatting 64 925 993 
Geldeenheid 1 Mark = 100 Pfennig (goudstandaard tot 1914)
Voorafgegaan deur
Opgevolg deur
Noord-Duitse Bond
Koninkryk Pruise
Koninkryk Beiere
Koninkryk Sakse
Koninkryk Württemberg
Republiek van Weimar
Pole
Saarland
Gdansk
Litaue

Die Duitse Keiserryk (Duits: Deutsches Kaiserreich, amptelik Deutsches Reich) is die historiese term vir die Duitse Ryk in die tydperk tussen 1871 en 1918. In hierdie periode was Duitsland 'n grondwetlike monargie met 'n federale administratiewe struktuur.

Die Duitse Keiserryk 1871–1918
Administratiewe kaart van die Duitse Keiserryk op 1 Januarie 1900
Vlae en wapens van die Duitse Keiserryk

Die Duitse Keiserryk is formeel op 18 Januarie 1871 met die Pruisiese koning Wilhelm I se uitroeping tot Duitse keiser in die spieëlsaal van die kasteel van Versailles gestig. Hierdie eerste Duitse nasionale staat sonder insluiting van Oostenryk as teenspeler van Pruise het onder die heerskappy van die Pruisiese Hohenzollern-dinastie kort ná die oorwinning van die Noord-Duitse Bond en sy Suid-Duitse bondgenote in die Frans-Duitse Oorlog ontstaan.

Volgens sy grondwetlike struktuur was die Duitse Keiserryk 'n federasie van Duitse vorste en Vrye Ryksstede onder die outoritêre gesag van keiser en rykskanselier. Die heersende klas van adellikes het in sterk kontras met 'n samelewing gestaan wat 'n fase van hoë industrialisering en vinnige modernisering binnegetree. Op politieke en godsdienstige gebied het die groeiende Sosiaaldemokratiese beweging en die Rooms-Katolieke Kerk die opposisiekragte gevorm.

In ekonomiese opsig het die vereniging van Duitse lande in 'n gemeenskaplike staat 'n proses van vinnige industrialisering aan die gang gesit wat van die oorspronklik nog sterk agrariese land in die dekades voor die Eerste Wêreldoorlog die tweede belangrikste en modernste nywerheidsland ná die Verenigde State gemaak het, terwyl ook 'n belangrike tersiêre sektor met 'n hoogs ontwikkelde bankbedryf ontstaan het. Die Duitse Keiserryk het sodoende by die Verenigde Koninkryk verbygesteek, een van sy strafste mededingers op ekonomiese en militêre gebied.

Ekonomiese prosesse het maatskaplike verandering in die Duitse Keiserryk versnel. Die nywerheidsomwenteling het gepaard gegaan met 'n ongekende bevolkingsaanwas, grootskaalse binnelandse migrasie en verstedeliking. Die sosiale struktuur van die Duitse samelewing is deur die sterk groei van die stedelike werkersbevolking en – veral vanaf omstreeks 1890 – die opkoms van 'n nuwe middelklas van tegnici, klerke en amptenare ingrypend verander. Die relatiewe bydraes van landbou en ambagte tot die bruto nasionale produk het afgeneem. Die monargiese regeringstelsel het egter verseker dat die sosiale status van Duitse adellikes nie aangetas is nie sodat hulle steeds 'n leidende rol in die leër, die diplomatieke diens en op hoër administratiewe vlakke gespeel het.

Die binne- en buitelandse beleid is tot en met 1890 deur Otto von Bismarck oorheers, die kanselier met die langste ampstermyn in die geskiedenis van die Ryk. Terwyl hy aanvanklik 'n relatief liberale beleid van hervormings gevolg het en met anti-katolieke wette, die sogenaamde Kulturkampf, die invloed van die Rooms-Katolieke Kerk beperk het, het hy ná 1878/1879 begin om die staat se invloed op die ekonomiese en politieke lewe te vergroot. Sy naam word steeds verbind met die invoering van 'n moderne stelsel van sosiale versekering, maar ook sterk optrede teen Sosiaal-Demokratiese stromings.

'n Ander belangrike prestasie was sy ingewikkelde stelsel van ooreenkomste en alliansies met ander Europese moondhede, waaronder die alliansie met Oostenryk-Hongarye in 1879, waardeur vreedsame betrekkinge in Europa bevorder is. Eers in die laaste jare van sy ampstermyn het Duitsland begin om met sy vlootbeleid en koloniale ambisies ander koloniale en militêre, veral die Verenigde Koninkryk, uit te daag.

Na die tydperk ná Bismarck word dikwels as die Wilhelminiese Tydperk verwys. Keiser Wilhelm II het vanaf 1888, nadat Bismarck as rykskanselier ontslaan is, sterk invloed op die Duitse Ryk se buitelandse beleid uitgeoefen. Daar was egter ook ander akteurs wat meegeding het om politieke invloed te wen. So is Wilhelm II se beleid dikwels as onvoorspelbaar en teenstrydig beskou.

Die opkoms van massaorganisasies en -partye en die groter rol van die pers het die openbare mening al hoe belangriker laat word. So het die keiserlike regering die steun van die bevolking deur 'n imperialistiese wêreldbeleid, anti-sosiaaldemokratiese retoriek en wetgewing en die uitbou van die vloot te wen. Op internasionale gebied het hierdie beleid egter net Duitsland se politieke isolasie bevorder en die gevaar van militêre konflikte verhoog.

Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het, was die Duitse Ryk in 'n militêre stryd op meerdere fronte verwikkel. Militariste het groot invloed op die binnelandse beleid begin uitoefen, maar hoe meer Duitse soldate gesneuwel het en hoe meer die geallieerde seeblokkade teen Duitsland wanvoeding en hongersnood in die land verskerp het, het die monargie ondersteuning verloor. Eers kort voor die einde van die oorlog is politieke hervormings afgekondig.

Met die nederlaag in die Eerste Wêreldoorlog is tydens die sogenaamde Novemberrewolusie van 1918 die republiek geproklameer. Keiser Wilhelm II het afstand van die troon gedoen, en vervolgens is die Republiek van Weimar deur 'n grondwetlike nasionale vergadering in 1919 as 'n republikeinse staatsvorm met 'n parlementêre demokratiese stelsel gevestig.

Die volkeregtelike status van die huidige Federale Republiek Duitsland word deur sommige nasionalistiese bewegings soos die Reichsbürgerbewegung en ander politieke belangegroepe in twyfel getrek. Volgens 'n amptelike verklaring van die Federale Duitse regering, wat in Junie 2015 uitgereik is, is die Federale Republiek Duitsland volkeregtelik identies aan die Duitse Ryk van 1871, al het die regeringstelsel en staatsgebied sedertdien verskeie kere verander.[2]

  1. (en) Whitaker's Almanak, 1897, by Joseph Whitaker; bl. 548
  2. (de) RT Deutsch, 7 Julie 2015: Bundesregierung: Deutsches Reich existiert weiter – Aber: BRD mit diesem identisch Geargiveer 25 Desember 2017 op Wayback Machine

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search